Fonds-planne kan eienaars laat les opsê – Llewellyn Prince

 

Heelparty eienaars van deel­titeleenhede in woonstel- en meenthuis-komplekse kan klippe kou wanneer nuwe heffingregulasies wet word.

Eienaars sal moontlik benewens die normale jaarlikse heffing ook vir ’n tyd bykomende gelde moet betaal om ’n reserwefonds vir byvoorbeeld toekomstige herstelwerk op te bou, sê Sean Smit, hoof van Unlimited Townhouses, ’n agentskap wat deeltiteleenhede bestuur.

Die konsepregulasies vir die Wet op die Bestuur van Deeltitelskemas is op 2 Oktober deur Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, in die Staatskoerant gepubliseer en belanghebbendes het nog ’n week tyd om kommentaar daarop by die departement in te dien.

As dit wet word, sal beheerliggame vir die eerste keer verplig word om ’n reserwefonds te handhaaf wat gelykstaande is met 25% van die administratiewe fonds, wat gebruik word vir die kompleks se jaarlikse uitgawes.

Smit sê in sekere komplekse, veral waar die meeste eienaars in die laerinkomstegroepe is, probeer beheerliggame heffingverhogings so laag moontlik hou. “Baie min of geen voorsiening word gemaak vir ’n verpligte reserwefonds nie.”

’n Formule sal gebruik word om bydraes tot die reserwefonds te bepaal. Sou die reserwefonds minder as 25% sterk wees, moet ’n bedrag gelykstaande met minstens 15% van die administratiewe fonds in die volgende finan­siële jaar daaraan toegewys word.

Volgens Smit sal deeltitel-eienaars in komplekse sonder enige reserwefonds in die eerste twee jaar nadat die regulasies aanvaar word, dus bykomende heffings van 15% moet betaal om die 25%-reserwefonds op te maak. Dit is benewens hul gewone jaarheffing.

Smit en ander kenners is ook bekommerd omdat rente op agterstallige heffings tot net 9% beperk sal word.

“Dit sal dit vir eienaars veel goedkoper maak om agterstallig te bly eerder as om geld daarvoor iewers anders te gaan leen. Dit sal ’n verdere las op beheerliggame en betalende eienaars plaas.”

Tertius Maree, ’n regskenner oor deeltitels, se groot kommer is dat beheerliggame tot dusver self ’n rentekoers op agterstallige heffings kon vasstel. “Baie het dit juis as afskrikmiddel gebruik.”

Coenie Groenewald, uitvoerende hoof van die nasionale vereniging vir bestuursagente, stem ook nie saam met die 9%-vasstelling nie. “Baie sê die status quo kom neer op uitbuitery, maar dit is nie so nie.”

Charles Coetzee, uitvoerende hoof van Stilus, ’n heffingversekeraar, sê dit is veral in deeltitelkomplekse vir laer-inkomstegroepe dat heffings nie betyds betaal word nie.

“As dit nie gedoen word nie, is daar nie geld vir instandhouding nie.”

Hy meen ’n reserwefonds is van kardinale belang.

Dit bekommer Maree ookdat die sektor sy nuwe ombudsman sal moet finansier.

This entry was posted in Latest News. Bookmark the permalink.

Comments are closed.